Friday, September 19, 2008

Daarom, het ek weer getrou . . .


Ek is al baie keer gevra: "Hoekom het jy weer getrou?" Wel om eerlik te wees was die grootste enkele oorweging en rede Dániel.

Sy het van baie klein af, met elke ete en elke aand hardop gebid, vir Liewe Jesus gesoebat vir 'n Pappa. Sy wou ook soos die ander kindertjies by die speelgroep en later kleuterskool, 'n pappa hê wat haar in die lig gooi, op sy skouers dra en jaag soos die ander kinders om haar. Oupa Dave is en was nog altyfd haar "HERO", maar hy was nie haar pa nie. Al het hy meer saam haar gedoen as wat hy voor tyd gehad het toe ons klein was . . .

Sy het haarself baie nagte aan die slaap gehuil oor sy nie 'n Pappa het nie (natuurlik het ek myself dan ook aan die slaap gehuil). 'n Man wat met my wou trou, moes in werklikheid op Niel verlief raak en met haar trou . . . Wat ek wou hê, was 'n bysaak . . .

Ek het met menigte nagtelike asma aanvalle gewonder wat sou gebeur as ek in die nag iets moes oorkom ?! Wat sal van my kind word . . . Ek weet dat Dad en Petat met baie liefde na haar sou kyk, maar hulle word ook oud, en hulle het klaar kinders groot gemaak. Ma en Pa Johan was GLAD nie 'n opsie nie, het nooit eers daaraan gedink of dit naastenby oorweeg nie (Hell NO!!). JC se familie was en is steeds nie 'n opsie nie - meeste van hulle het ons laas met sy begrafnis gesien (hulle weet nie eers hoe sy nou lyk nie). Ek weet enige van my sussies sou haar ook met liefde groot gemaak het, maar is dit regtig regverdig teenoor hulle eie kinders?

Ten minste weet ek dat Niel se kinder gebedjies verhoor is. Sy en Janna het van dag een af net gekliek. Hulle is ongelooflik lief vir mekaar, en hulle het 'n wonderlike verhouding. Altyd besig om mekaar te terg, "deals" en weddenskappe te maak of saam te sweer teen my. Hulle lag aanhoudend, veral vir hulle eie grappies. Ek voel partykeer soos 'n buitestaander. Eendag het Miela (een van Janna se bloed broers) baie bekommerd met my kom gesels: "Ek wil net hê jy moet weet, Janna het gisteraand vir my vertel - Hy is baie lief vir jou, maar Dániel is sy lewe . . . " Ek weet dit lankal - Hy het toe al die tyd met haar getrou . . . Sy noem hom Jan, as sy met hom praat, maar as sy van hom praat, praat sy met trots van haar PA !

'n Vriendin van ons albei sit eendag die twee en dop hou. "As ek nie met sekerheid geweet het die kind het 'n ander Pa gehad nie, sou ek sweer die is jou kind Jan" Alhoewel Niel baie (vreeslik baie) van haar biologiese Pa se gene geerf het, lyk sy tog baie na Jan. Jan het gelukkig nie kinders van sy eie nie en ons saam sal ook nie hê nie. Volgens hom is Niela syne . . .

Met ons troue in 2003, het ons besluit om haar van ook te verander, sodat sy deel van die "Nuwe" familie moes voel. Sy moes weet dat ons albei vir haar lief is, dat sy nou 'n regte Pa het. Ek het nie Johan se van heeltemal laat wegval nie, wou nie hê sy moet eendag dink ek het haar 'n onreg aangedoen nie. Sy het net sy van as nog 'n naam bygekry, en haar van is nou dieselfde as ons sin. Dit was vir haar baie belangrik, en 'n baie groot geskenk. Sy het haarself, baie trots, al so begin noem nog voor ons die nuwe geboorte sertifikaat van Binnelandse sake terug gehad het.

Ek weet dat as ek iets moet oorkom, sal sy in goeie hande wees. Ek kon nie vir 'n beter pa vir my kind gevra het nie . . .


2 comments:

Desia said...

Snaaks dat mens soms familielede beter leer ken van ver af, deur hul skrywes!
Hou aan en se groete vir jou ma wat daar kuier.

Wenchy said...

This is a beautiful post